‘Facebook-verkragter’ in hof na hy vrou op Facebook ‘lok’ en verkrag

Deel hierdie storie / Share this story

ODENDAALSRUS – ‘n Man (32), wat as die Facebook-verkragter bekendstaan, het gister 22 Junie in die landdroshof op Odendaalsrus verskyn.

Die verdagte is in hegtenis geneem omdat hy ‘n vrou deur Facebook omgepraat het om hom te ontmoet, en haar toe verkrag het, sê kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder.

Die vrou (25) het glo op 20 Junie 2020 van Welkom na Odendaalsrus gereis om haar Facebook-vriend te ontmoet. Die man het glo ‘n gesigmasker aangehad en was vir die slagoffer onbekend.

Die man het die vrou na bewering met ‘n mes gedreig en haar na bosse aan die agterkant van ‘n laerskool forseer, waar hy haar verkrag het. Hy het haar glo daarna ‘n R20 gegee om na Welkom te kan teruggaan. Die slagoffer het toe ‘n verkragtingsaak by die Kutlwanong-polisiestasie gaan open.

Terwyl sy by die polisiestasie was, het die verdagte haar weer gekontak, om verskoning gevra vir wat gebeur het en gesê hy wil haar weer sien. Die polisie het dit toe as ‘n geleentheid om die man te vang, gesien. Die verdagte is naby ‘n taverne in hegtenis geneem en hy was volgens kol. Mbambo in besit van ‘n selfoon, swart gesigmasker en ‘n paar handskoene.

Hy verskyn op 29 Junie weer in die landdroshof.