Janja Wills (33) wat in die afgelope vier jaar meer as 100 kg afgeskud het, sê sy verkoop al ongesonde eetgoed om geld vir haar operasie in te samel, “want dis al wat mense wil hê.”
Wills het drie jaar gelede besluit om haar lewe te verander sodat sy die beste jare van haar lewe saam met haar sewejarige dogter kan deurbring.
Sy het voorheen aan FiND iT vertel hoe sy oudergewoonte op die bank gesit en brood eet het. “Dit het skielik gevoel asof ek ’n hartaanval kry. Dit het my net getref: Ek het ’n omkeerpunt in my lewe bereik.” Lees die berig hier.
Sy het gesond begin leef en sonder dieetpille, aanvullings of oormatige oefening ‘n allemintige 100 kg afgeskud.
Sy is vandag ‘n inspirasie vir meer as 6 000 mense op haar Instagram-profiel en motiveer talle om ook ‘n gesonder leefstyl aan te neem.
Die enigste ding wat steeds in Wills se pad staan en haar daagliks herinner aan haar groter dae, is die los, oortollige vel. Sy klink hartseer as sy sê: “Ek is goedgekeur vir die operasie om die ekstra vel te verwyder, maar finansiële redes maak dit bykans onmoontlik.”





Sy het ‘n fondsinsameling begin om ‘n operasie, wat meer as R130 000 kos, om die oortollige vel aan haar lyf te verwyder, te kan bekostig.
Wills het besluit om Vadersdag-geskenkies, groente en vrugteboksies en braaibokse te begin verkoop en op dié manier die geld vir haar operasie in te samel. Dié projek van haar is al vir twee jaar aan die gang en sy sê sy het tot dusver nog net R40 000 ingesamel.
“Ek verkoop al ongesonde goed. Dis al wat mense wil hê.”
– Janja Wills

Wills sê dis nie regtig wat sy wil doen nie. “Dis nie waarvoor ek staan nie. Maar ek het aanvaar nie almal wil ‘n gesonde leefstyl leef nie. Ek sal enigiets doen om die geld te kan insamel.”
As jy ‘n donasie wil maak om Wills se droom te laat waar word, haar bankbesonderhede is as volg
Bank: FNB
Rek: 62743424020
Tak: 250 655



