Betogings by Girls High oor ‘rassediskriminasie sedert 2016’

Deel hierdie storie / Share this story

“Om gevra te word om jou hare te verander, is soos om gevra te word om jou identiteit as swart persoon te verander.” Dit is die woorde van Zulaikha Patel (17), ’n leerling aan Girls High in Pretoria.

Die geveg teen wat matrikulante as rassediskriminasie bestempel, het weer by die Pretoria High School for Girls vlamgevat. Leerlinge het Donderdag ’n betoging op die skoolgrond gehou en vereis dat die skool iets omtrent die gebrek aan rassetransformasie doen.

Vier jaar gelede, in 2016, het die leerlinge by die skool teen die opdrag aan swart meisies om hulle hare reguit te maak, betoog. Die leerlinge voel nou dat die skool nie die #BlackLivesMatter-veldtog ondersteun nie.

Die leerlinge betoog onder andere oor die haarbeleid wat hulle voel geskrap moet word, asook IsiZulu wat as vak by die skool aangebied moet word.

Chanté Pietersen (17), matriekleerling aan die skool, sê aan Bongani Bingwa op radiostasie 702 die skoolsisteem het glad nie sedertdien verander nie. “Al wat verander het, is die haarbeleid,” sê sy.

Sy sê die leerlinge het met die uitvoerende raad oor die kwessies vergader. Volgens Pietersen is die manier waarop onderwysers die swart of kleurling leerlinge teen rassisme, homofobie en seksisme beskerm, een van die dinge waarmee die leerlinge ’n groot probleem het.

“In my graad 8-jaar het ek een van my musiekklasse bygewoon. Die onderwyser het vir my gesê hy sal nie verbaas wees as ek op die ouderdom van 16 swanger raak nie, want dis wat arme, dom kleurling meisies doen.”

Steve Mabona, woordvoerder vir die departement van onderwys in Gauteng, sê hy verstaan nie waarom die leerlinge nou klagtes het nie. “Daar is aandag gegee aan al die klagtes wat in 2016 gelê is. Ek verstaan nie waarom daar nou weer klagtes is nie.”

“Ons kan ook nie nou in groepe betoog en ons lewens in gevaar stel deur nie aan die Covid-19-protokolle te voldoen nie,” sê hy.