Wat jy alles behoort te weet na pres. Ramaphosa se toespraak

Deel hierdie storie / Share this story

President Cyril Ramaphosa het in sy toespraak gisteraand 17 Junie die deure van die ekonomie wyer oopgemaak. Die land bly steeds in vlak drie van inperking, maar die regulasies is aansienklik verslap.

Hy het gesê die datum waarop die genoemde bedrywe weer sal mag heropen, sal nog bekendgemaak word.

Alle besighede wat persoonlike sorg aanbied, soos haarsalonne en skoonheidsalonne, sal mag heropen, maar streng gesondheidsmaatreëls moet steeds gevolg word.

Fliek- en ander teaters mag vir vermaaksdoeleindes weer oopmaak. Die aantal persone wat op ’n slag in die teaters toegelaat sal word, sal nog bekendgemaak word.

Restaurante mag nou aansitetes vir klante bied, met die voorwaarde dat die eetplekke ook aan die vereistes voldoen.

Nie-kontaksport mag ook weer beoefen word. Tennis, gholf en ander sportsoorte waar geen kontak gemaak word nie, mag gespeel word. Rugby- en sokkerspelers mag weer oefen, met beperkings op die hoeveelheid kontak tussen spelers. Daar is nog geen verwysings na gimnasiums gemaak nie.

Casino’s mag ook weer hul deure oopmaak. Daar sal ook streng maatreëls gevolg moet word oor die aantal persone wat in ’n beperkte ruimte toegelaat word.

Konferensies en vergaderings vir besigheidsdoeleindes sal, ook met streng vereistes, weer toegelaat word.

Alle vorme van verblyfplekke, behalwe tuisverblyf, mag weer oopmaak.