Ben Wiid en sy vrou, Riana, ’n egpaar wat vir 35 jaar getroud was, is die naweek in ’n gru-ongeluk op die N2 naby Grabouw oorlede.
Ben (61) en Riana (58) het in Somerset-Wes gewoon en die afgetrede onderwyseres en afgetrede apteker was vermoedelik op pad na Kleinmond toe hulle motor met ’n brandstoftenkwa gebots het, berig Netwerk24. Riana is in hul motor, wat gerol en deur die helling gebars het en van die pad af gaan stilstaan het, oorlede en Ben het ’n rukkie daarna in die vlamme van die brandstoftenkwa gaan lê tot hy ook oorlede is. Die vragmotorbestuurder en omstanders moes toekyk hoe Ben van die motorwrak tot by die brandende trok hardloop en in die vlamme duik.

’n Vrou, wat die brandende tenkwa afgeneem en toevallig die gebeurtenis op kamera vasgevang het, vra aanhoudend: “Wat het hy nou gedoen? Hoekom het hy dit gedoen?” Die video is aan FiND iT gestuur, maar FiND iT het besluit om dit nie te publiseer nie. Die vragmotorbestuurder het nader gehardloop en vir Ben geskree om weg te kom van die vuur af, maar hy was binne sekondes by die vragmotor en die toeskouers het besef hulle kon hom nie help nie.
Sers. Noyoliso Rwexana, polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, sê ’n doodsondersoek en ’n saak van strafbare manslag is geopen en die omstandighede rondom die ongeluk word nog ondersoek.




