NOORD-KAAP. – Nog ‘n geval van geslagsgebaseerde geweld, hierdie keer in die Noord-Kaap, het die behoefte aan ‘n dringende en dog praktiese reaksie in hierdie voortdurende stryd beklemtoon.
Meegevoel aan familie
Priscilla Isaacs, LPW: DA Noord-Kaapse provinsiale woordvoerder van geslagsgebaseerde kwessies, sê in hierdie opsig is die Demokratiese Alliansie geskok, hartseer en getraumatiseer deur die wrede moord op ‘n 27-jarige vrou woonagtig in die informele nedersetting Asgat naby Hartswater, wie met ‘n panga doodgeslaan is. “Ons bied ons innige meegevoel aan haar familie aan.”
Misdade teen vroue en kinders
Isaacs sê daar is eenvoudig nie meer woorde om die verontwaardiging, die afgryse en die veroordeling wat mense teenoor misdade teen vroue en kinders voel, gepas uit te druk nie. “Dit sluit in die dood van Tshegofatso Pule en haar ongebore kind, wie in ‘n boom in Roodepoort opgehang is, asook Naledi Phangindawo van Mosselbaai wat met ‘n byl doodgekap is.”
Die omwenteling
“Die DA is geensins ‘n voorstaander van die ANC se ernstige radikale transformasie nie, maar as daar een plek is waar die term radikaal gepas is, moet dit in die land se reaksie op geslagsgebaseerde geweld wees. Dit word toenemend duidelik dat aansienlik meer druk nodig is vir die omwenteling van geslagsgebaseerde veiligheid.”
Skuldigbevindingskoerse
Statistieke wys dat 114 vroue elke dag in Suid-Afrika verkrag word, maar die land het se skuldigbevindingskoerse is laer as 5%. Aangesien sekere wetgewing ten opsigte van huishoudelike misbruik meer as 20 jaar oud is, is dit geen wonder nie, sê Isaacs.
“As die wêreld teen rassisme kan verenig, kan dit sekerlik ook teen geweld teen vroue en kinders verenig? As die wêreld kan saamstaan om ‘n nuwe virus te bestry, kan dit ook saamstaan om die eeue-oue pandemie van geslagsgebaseerde geweld te bestry?
Wetgewing kan instel,
“Met die onlangse verspreiding van die koronavirus, het die regering ons gewys hoe vinnig hulle wetgewing kan instel, hoewel dit baie twyfelagtige wetgewing is. Dit is tyd dat hulle geslagsgebaseerde geweld met dieselfde vasberadenheid aanspreek.
Beskermingsbevele
“Dit is nodig dat wetgewing in ‘n taal wat prakties en maklik is om te verstaan, oorgeskryf moet word, sodat vroue en polisiebeamptes orals hul regte kan verstaan. Ons moet die aansoekproses vir beskermingsbevele vereenvoudig om dit makliker en meer gebruikersvriendeliker te maak. Ons het gespesialiseerde howe vir huishoudelike geweld sowel as ‘n aanlynregister nodig om te verseker dat inligting oor oortreders in alle stede en dorpe toeganklik is.
Beter polisiewerk nodig
“Terselfdertyd het ons beter polisiewerk nodig deur die professionalisering van ons polisiebeamptes, en deur hulle op te lei en toe te rus. Bring die bloedhonde aan om misbruikers, verkragters en moordenaars uit te snuffel!
“As daar vandag nie iets hieraan gedoen word nie, sal ons môre weer trane van ons oë afvee.
“Die DA doen daarom ‘n beroep op die hele samelewing om van die land se jeugdagvieringe gebruik te maak om ook hulde te bring aan die ontelbare lewens van vroue wat deur geslagsgebaseerde geweld vermoor is. As daar soveel aandag geskenk kan word aan die aftakel van standbeelde uit die verlede, kan daar sekerlik nog meer aandag geskenk word aan die ineenstorting van die huidige patriargie en die neerbuigende misdadigers wat voortgaan om die siklus van geslagsgebaseerde geweld in die samelewing te bevorder.”
*Persverklaring



