Die polisie op Plooysburg het twee verdagtes wat dagga en tabakprodukte vervoer het, in hegtenis geneem.
Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê die polisie het Saterdag 13 Junie ‘n verdagte motor 3km buite Plooysburg opgemerk en deursoek.
Die polisie het 5 sakke dagga, 10 pakkies sigarette en 10 sakkies BB-twak ter waarde van R250 000 op die agtersitplek en in die kattebak gevind.
Die twee verdagtes van onderskeidelik 47 en 48 jaar oud is in hegtenis geneem op aanklag van daggahandel en die vervoer van tabakprodukte tydens inperking.
Die polisie het die motorvoertuig ook gekonfiskeer. Die verdagtes verskyn binnekort in die landdroshof op Douglas.




