Man in hegtenis na hy glo sigarette verkoop

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Die polisie het gister ‘n man in Beaconsfield in hegtenis geneem omdat hy na bewering sigarette verkoop het tydens vlak drie van inperking.

Brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê die polisie was in Beaconsfield besig met misdaadvoorkomingspligte toe hulle ‘n vrou gestop en haar besittings deursoek het. Sy het glo sigarette in haar besit gehad.

Sy het die polisie na ‘n kafee in Herculesstraat geneem en gesê sy het die sigarette daar gekoop. Toe die polisie die winkel deursoek, het hulle 23 kartonne Sahawi-sigarette en twee pakkies Caeser-sigarette gevind. Die sigarette, ter waarde van ongeveer R28 320, was in ‘n boks versteek.

Die 38-jarige winkeleienaar is op aanklag van oortreding van die wet op rampbestuur in hegtenis geneem.