Die Fair Trade Independant Tobacco Association (FITA) verskyn vandag in die hof in die saak teen die regering oor die sigaretverbod. Die saak spreek die regsgeldigheid van die verbod aan.
Geen grond om met sigaretverbod voort te gaan
Adv. Arnold Subel SC sê die regering het geen gronde gehad om voort te gaan met die regulasie oor die sigaretverbod nie. Hy sê die tabakbedryf het massiewe skade opgedoen. Verder sê hy rokers, sigarethandelaars, verslaafdes en tabakboere kry swaar.
Onwettige sigarette
Hy sê verder alhoewel Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, die sigaretverbod grotendeels weens gesondheidsredes toegestaan het, koop rokers nou onwettige sigarette, wat nog meer skadelik is vir hulle gesondheid.
“Die minister het gefaal in haar poging om haar saak oor die handel in sigarette te verdedig,” sê Subel. Hy verwys ook na die feit dat alkohol verkoop mag word, maar tabak nie.
Verder sê FITA die verkoop van sigarette is aanvanklik toegelaat, maar weer later onwettig verklaar.
Net SA en Botswana het sigaretverbod
Subel sê dis net Suid-Afrika en Botswana wat ‘n sigaretverbod het. Hy verwys ook na die Wêreldgesondheidsorganisasie wat nog geen verbintenis tussen rook en Covid-19 gevind het nie.



