Skole in die Noord-Kaap 100% gereed, sê adjunkminister

Deel hierdie storie / Share this story

Die departement van onderwys in die Noord-Kaap is tevrede met die skole in dié provinsie wat gister heropen het.

Die departement het verskeie spanne na 180 skole in die provinsie gestuur om te verseker die skole het aan die vereistes voldoen.

Dr. Reginah Mhaule, die adjunkminister van die departement van basiese onderwys, en Mac Jack, die LUR van dié departement, het Hoërskool Pampierstad besoek.

“Ons het geen ander keuse as om die nuwe norm in skole te aanvaar nie. Die veiligheid van ons leerlinge is prioriteit en daarom is die nodige regulasies in plek. Ek is oortuig daarvan dat die Noord-Kaapse skole gereed is vir die heropening,” sê dr. Mhaule.

Daar is egter aangedui 19 skole in die Pixley ka Seme-distrik het nie gister 8 Junie oopgemaak nie. Van die 534 skole in die Noord-Kaap wat graad 7 en graad 12 aanbied, het net 515 heropen.

Daar is volgens Geoffrey van der Merwe, woordvoerder vir die departement van onderwys in die Noord-Kaap, nog ’n paar skole wat ’n tekort het aan higiënetoerusting, watervoorsiening en vervoer vir die leerlinge.

Van der Merwe sê die departement is nou besig om die akademiese jaar te hersien om die probleme wat die virus vir die skole en sy leerlinge bring, op te los.