Bang inbreker kom terug

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Cindy Hendricks (36), by wie se huis daar Saterdag ingebreek is, sê sy sal vir haar lewe vrees indien die inbreker, wat in haar erf betrap is, op borgtog vrygelaat word.

Borgtogaansoek

Die verdagte, Xolile Mtambu (32), het op 1 Junie 2020 vlugtig in die Kimberley-landdroshof verskyn en die saak is tot 10 Junie 2020 uitgestel vir ’n formele borgtogaansoek.

Hendricks sê die verdagte het glo vir ’n geruime tyd in haar huishulp se kamer weggekruip en geslaap. “Ons vermoed hy het jump the wall gespeel en by ’n paar bure goed bymekaargemaak om te steel.”

Kruip in wasmasjien weg

Hendricks vertel sy het die oggend 02:45 wakker geword van haar hond wat blaf. Sy het na die huishulp se kamer gegaan maar het niks daar gekry nie. Sy kon nie weer slaap nie en het later teruggegaan en gesien die huishulp se stoel is geskuif. “Hy moes in ’n stadium in die wasmasjien weggekruip het. Ons het later sy twak en goed in my huishulp se kamer gekry.”

Om 07:20 is die verdagte gewaar en het hy homself in die huishulp se kamer toegesluit, vertel Hendricks. Die polisie is ontbied en die verdagte is in hegtenis geneem.

Mes gevind

Hendricks het later die verdagte se mes in haar huishulp se kamer opgespoor en dit aan die polisie oorhandig.

“Ek is regtig bang hy word op borgtog vrygelaat. Ek is bang hy kom terug.”

Foto van inbreker: Canva