KIMBERLEY – Inwoners van Greenpoint is woedend oor daar stééds niks aan die situasie by Hoërskool Greenpoint se badkamers gedoen is nie.
Die dakke in die badkamers val inmekaar, die toilette loop oor en die ontlasting loop by die deure uit. Inwoners voel “siek” oor die toestand van die badkamers en weier om hul kinders skool toe te stuur voor dié probleem nie opgelos is nie.
Een van die onderwysers by die skool sê die skoolhoof het die personeel ingelig dat die Sol Plaatje-werkers die badkamers kom skoonmaak het. “Hier was egter nog niemand om na die probleem te kyk nie en dus loop die water steeds die hele plek vol,” sê sy.
Lehuma Ntuane, kommunikasiebestuurder van die departement van onderwys in die Noord-Kaap, sê die munisipaliteitswerkers het die skool se badkamers gedurende die week skoongemaak, maar nie reggemaak nie.
“Ons is bewus van die feit dat daar steeds water stroom. Daar sal die komende naweek kontrakteurs wees om die stukkende toilette, pype en mure te herstel. Die skool sal Maandag weer gereed wees om te open,” sê Ntuane.



