KIMBERLEY – Dis goeie nuus vir Kimberliete dat die Sol Plaatje-werkers weer vandag soos normaal met vullisverwydering sal voortgaan.
Ongelukkig oor oortydbetaling
Dié munisipaliteitswerkers het geweier om te werk, omdat hulle ongelukkig was oor hulle oortydbetaling. Die munisipaliteitsbestuur, unies en die werkers het gister 2 Junie oor die kwessie vergader.
Thoko Riet, woordvoerder vir die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê die bestuur sal binne 14 dae vir die werkers en die unies ’n antwoord hê oor die betaling.
Van vandag af weer soos normaal
“Die vullisverwydering sal van vandag af soos normaal voortgaan en ons vra om verskoning vir enige ongerief,” sê Riet.
Erna van der Merwe, inwoner van Kimberley, sê sy is baie bly oor die vullistrok vandag weer soos normaal vullis verwyder. “Wat egter ’n irritasie is, is dat ek nou nie weet of hulle die vorige twee dae se vullis vandag gaan kom verwyder en of hulle dit die naweek gaan doen nie. Ek weet dus nie of ek my sakke moet uitsit of nie,” sê sy.
Riet sê die werkers sal eers Maandag en Dinsdag dié twee verlore dae se vullis verwyder en nie oor die naweek nie.



