Baie vrouens het in die laaste ruk besef hul oogskadu sal dalk vir die volgende paar maande nog die belangrikste item in hul grimeersakkies wees. Die feit dat jy die helfte van jou gesig onder ’n masker wegsteek wanneer jy die huis verlaat, hoef nie ’n verskoning te wees vir afgeskeepte grimering nie.
Hier volg ’n paar wenke wat Anita Mienie, die eienaar van Genade-skoonheidsalon in Kimberley, bymekaargesit het om seker te maak jou oë staan uit bo jou masker.
Begin met ’n ligte onderlaag, iets wat nie swaar op die vel is nie.
’n Verbloemer is ’n moet om daardie donker kringe onder die oe te versag. Wend dit in die binne- en buitehoeke van jou oë aan.
Wend ’n ligte poeier bo-oor jou hele gesig.
Vul jou wenkbroue in. Voller wenkbroue skep ’n raam vir jou gesig en lig jou oë.
Gebruik kort, opwaartse hale met ’n skuins borseltjie en kam dan weer die haartjies in plek.
Gebruik ’n highlighter onder jou wenkbroue.
Dis nou tyd vir daardie rokerige oogskadu, dit komplementeer enige oogkleur. Dit definieer en lig die oë. Dit is vinnig en maklik om aan te wend. Maak gebruik van ’n ligte kleur oogskadu en wend dit oor die hele ooglid aan. Gebruik dan ’n donker oogskadu in die vou van jou ooglid en wend so bietjie reg onder die onderste ooglid aan. Dit is nie altyd nodig vir ’n donkerbruin of grys kleur nie, jy kan rondspeel met verskillende kleure.
Hou oogomlyner op die boonste ooglid. Oogomlyner wat aan die onderste ooglid aangewend word, is iets wat baie mense doen. Hierdie voorkoms trek jou oë afwaarts en beklemtoon die donker kringe en plooie onder jou oë. Dit kan ook maklik smeer. Gebruik eerder oogomlyner net op jou boonste ooglid. Probeer dalk die ‘katoogomlyner’-tegniek aan die buitehoeke van die oë, wat jou oë sal lig.
Krul jou wimpers en wend so twee tot vier lagies water- en smeerbestande maskara aan.
Spuit jou grimeerseëler aan.
Sit jou masker op en vertel jou storie!







