Die hooggeregshof van Suid-Afrika het bevind die regering se regulasies ingevolge vlak drie en vier van die inperking hier is ongeldig en ongrondwetlik.
Regter Norman Davis het Dinsdag gelas die regulasies vir vlak 3 van die inperkingsperiode sal steeds vir die volgende 14 dae in werking bly, waarna dit gewysig moet word.
Minister moet regulasies wysig
Reyno Dawid de Beer, Hola Bon Renaissaince Foundation en die Liberty Fighters Network het die saak teen Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, aanhandig gemaak.
Regter Davis het die minister opdrag gegee om die handves van menseregte in ag te neem en die regulasies vir vlak 3 en 4 van inperking te hersien.
Irrasionele regulasies
Die aansoek het spesifiek gehandel oor “irrasionele” regulasies, wat insluit dat ondernemings soos haarkappers wat nie aanvanklik as essensiële dienste geklassifiseer is nie, nie mag oopmaak nie.
Word van waardigheid ontneem
“‘n Enkelma en enigste broodwinner was dalk bereid om by al die inperkingsreëls in te val, maar nou moet sy toekyk hoe taxi’s verby haar salon ry, waar mense ingepak langs mekaar sit, terwyl haar kinders honger ly.” Sy word van haar waardigheid, gelykheid en reg om ‘n inkomste te verdien, ontneem.
Mense gaan dood sonder naasbestaandes
Besoektye by hospitale word ingeperk, alhoewel daar mense is wat sterwend is en nie deur hulle naasbestaandes gegroet kan word nie. Die regering het nie die impak van die inperkingsreëls op die konstitusionele reg van individue in ag geneem nie.
Staan in rye vir kos
Die aansoek handel oor kospakkies wat uitgedeel word waar honderde mense vir dae aaneen in rye moet staan om kos te kry, waar hulle andersins die kos self kon voorberei.
Dit is verder onredelik dat mense op promenades mag draf, maar sodra iemand ‘n voet op ‘n strand sit, sal die virus versprei. Die aansoek voer aan dit is redelik om kontak tussen mense te beperk, maar om oefentye daar te stel, is onredelik.
Irrasionele reëls vir mense wat na kinders omsien, is ingestel.
Regulasies wat in die hofaansoek opgebring word
Ten slotte reken regter Davis die regulasies wat in vlak drie en vlak vier van inperking ingestel is, is nie rasioneel uiteengesit om die verspreiding van die virus te vertraag nie.
Die regulasies oor die verkoop van tabakprodukte word nie deur die hofbevel geraak nie, omdat dit in ‘n aparte aansoek hanteer moet word.
Regter Davis se uitspraak
- Die regulasies wat deur dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, as deel van die wet op rampbestuur ingestel is, is as ongeldig en ongrondwetlik bevind.
- Die minister word beveel om die regulasies ingevolge vlak drie en vlak vier van inperking in die land te hersien en te wysig.
- Die vlak drie-regulasies sal vir nog 14 dae van krag bly, waarna die hersiende regulasies van die minister verwag sal word.
Die kabinet se antwoord op die hofaansoek
Phumla Williams, woordvoerder vir die kabinet, het in ‘n verklaring gesê die regering neem kennis van die uitspraak dat die regulasies ongrondwetlik en ongeldig verklaar is. Hy het gesê die kabinet sal ‘n verklaring uitreik sodra die uitspraak goed bestudeer is.



