KIMBERLEY – Die burgersentrum is glo al van Vrydag af sonder water. Werkers kan nie toiletgeriewe gebruik of hande was nie en moet steeds voldag werk.
FiND iT het dieselfde klagte van verskeie Sol Plaatje-werkers ontvang – geen water nie.
Water al dae lank af
Volgens dié werkers is die water al van Vrydag af en is hulle bekommerd oor die verspreiding van kieme, aangesien niemand hande kan was of die toilet kan gebruik nie. “Daar is vir ons gesê om die geriewe in die ou gebou te gebruik, maar daardie toilette is vuil en dit is in hierdie tyd nie veilig om tussen geboue te beweeg nie. Steeds word daar van ons verwag om voldag te werk. Niemand gee om oor ons veiligheid nie. Ek voel daar moes ’n alternatiewe plan gemaak word,” sê ‘n werker. Die werkers wil nie hulle identiteit bekend maak nie uit vrees vir viktimisasies.
Raadslid doen navraag
Ockie Fourie, DA-raadslid, het in sy persoonlike hoedanigheid navrae by die munisipaliteit gedoen en is ingelig dat ’n pomp gebreek het. Die pomp neem die watertoevoer na die voorste gedeelte van die gebou. “Sol-Plaatje is bewus van die probleem en die herstel daarvan moet uitgekontrakteer word.
“Die probleem is egter, wat van die personeel wat daar werk? Of dit nou mans of vrouens is, dit is ’n baie slegte situasie. Ek dink hulle moet alternatiewe reëlings kan tref. Dit is onaanvaarbaar.”
FiND iT doen navraag
FiND iT het navraag by Thoko Riet, woordvoerder van die Sol Plaatje-munisipaliteit, gedoen. Riet sê die munisipaliteit is bewus van die probleem en werk onvermoeid om die probleem uit te sorteer.
Lees meer op FiND it hier.



