Visvang en wildritte nou toegelaat

Foto: Unsplash

Jy kan gedurende vlak drie van inperking weer wildreservate soos Tarentaalrand in Kimberley besoek. Erika Cloete sê alles sal by dié reservaat voortgaan soos normaal, met die uitsondering van kos wat nie verkoop sal word nie.

“Natuurlik sal besoekers maskers moet dra en sosiale distansiëring handhaaf, maar mense kan weer die natuur kom geniet,” sê sy.

Selfbestuur-wildritte by nasionale of privaat wildreservate en visvang vir ontspanningsdoeleindes word in vlak drie van inperking toegelaat.

Baie Suid-Afrikaners is bly oor die aankondiging wat Barbara Creecy, die minister van omgewing, bosbou en vissery, gemaak het.

Sy het gesê alle visvang, ook vir ontspanning, maar met die uitsondering van huurvisvanguitstappies, word toegelaat. Hengelaars moet geldige permitte hê en alle maatreëls ingevolge sosiale distansiëring en byeenkomste gehoorsaam.

Selfbestuur-wildritte word toegelaat en SANParke sal ‘n lys van parke publiseer wat binne die volgende paar dae sal open.

“Ons weet natuurliefhebbers wil graag na nasionale parke en reservate terugkeer, maar dis beter om te wag vir owerhede om die korrekte voorbereidings te tref voordat besoekers ontvang word,” het die minister gesê.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *