Die Demokratiese Alliansie het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) versoek om alle Noord-Kaapse kwarantynfasiliteite, waar pasiënte met die koronavirus gehuisves sal word, te evalueer.
Isak Fritz, DA LPW en kiesafdelingshoof van Namakwaland, sê die versoek volg op die verspreiding op sosiale media van skokkende foto’s van ‘n Nababeepse kwarantynfasiliteit wat 28 pasiënte kan huisves.
“Die DA is woedend oor die feit dat inwoners, veral diegene wat via Namibië na Suid-Afrika reis, by hierdie verskriklike fasiliteit moet bly aangesien dit gesondheids- en veiligheidsrisiko’s vir inwoners inhou, wie se regte dit ook skend.

“Die Nababeepse fasiliteit is ‘n ou gemeenskapsgesondheidsentrum (CHC), wat hoofsaaklik gebruik was om TB-pasiënte te behandel. Die gebou is tans die verantwoordelik van die Noord-Kaapse departement van paaie en openbare werke.

“Die fasiliteit is besig om te verval en word ook deur oop rioolwaterdreine op die perseel. Daar is geen sanitasie om van te praat nie en badkamers word deur alle inwoners gedeel sonder dat dit intussen skoongemaak is. Die fasiliteit is ook onveilig, want dit het geen heining rondom die eiendom nie en geen diefwering aan die vensters nie. Die slotte op die slaapkamer- en badkamerdeure werk ook nie. Voedsel word afgelewer deur ‘n sekuriteitswag wat geen veiligheidstoerusting het nie as gevolg van die totale afwesigheid van persoonlike beskermende toerusting op die eiendom.

“Hierdie kwarantynfasiliteit maak ‘n bespotting van die koronavirus-pandemie en voldoen geensins aan die riglyne vir kwarantyn- en isolasiefasiliteite met betrekking tot blootstelling en infeksie van die koronavirus nie.”
Die DA het ‘n klag by die SAMRK ingedien en ook die saak by die LUR van paaie en openbare werke, Abraham Vosloo, aangemeld.
“Ons verwag dat dringende veranderinge aangebring moet word ten opsigte van gepaste kwarantynverblyf in Nababeep. As alternatiewe oplossing, moet mense wat in kwarantyn geplaas word, toegelaat word om selfkwarantyn te onderneem in ‘n fasiliteit wat aan die basiese gesondheids- en veiligheidstandaarde voldoen.
“Hoe dit ook al sy, is die huidige Nababeepse kwarantynterrein eenvoudig skandalig en moet dadelik gesluit word.”



