’n Onderwyskenner is van mening matrieks moet steeds hulle eie middeljaareksamen skep, aangesien dit nie meer vanjaar in die skole gaan gebeur nie, maar steeds baie belangrik is.
As gevolge van die Covid-19-inperking sal daar geen middeljaareksamen vir Matrieks wees nie, maar leerders moet steeds daarna streef om hul eie eksamenervaring tuis te skep, aangesien dit waardevolle oefening en insigte bied. Dit bied ook ’n geleentheid om hul prestasie later hierdie jaar te verbeter.
“Daar word vanjaar baie van ons matriekleerders wat onder baie moeilike omstandighede die finale deel van hul skoolreis moet voltooi, verwag” sê Nola Payne, fakulteitshoof van inligting- en kommunikasietegnologie aan die Independent Institute of Education, die grootste en die hoogste geakkrediteerde privaatverskaffer vir hoër onderwys.
Met die graad 12’s wat begin Junie weer na die skool sal terugkeer, kan sommige skole oefeneksamens insluit as deel van die hersieningstrategie, maar baie kan dit nie doen nie.
“Hierdie leerders kan baie baat vind deur hulself by die huis te toets deur vorige toetse in een sitting en binne ’n spesifieke periode te doen en af te handel, soos in die formele eksamen gedoen sou word,” sê Payne.



