Boer kry 20 jaar na koopooreenkoms sy plaas

Deel hierdie storie / Share this story

’n Boer van Limpopo wat amper twintig jaar met die staat koppe gestamp het oor eienaarskap, het uiteindelik sy plaas, Nooitgedacht, gekoop. David Rakgase, 79, wat die plaas vir die afgelope 28 jaar huur, is van bakboord na stuurboord gestuur in sy pogings om die plaas te koop.

Hy het die grond aanvanklik by die regering van die destydse Bophuthatswana gehuur. In 2003 het die departement van landbou sy aansoek om deur die herverdelingsprogram vir landbougrond, LRAD, te koop, goedgekeur. Vyftig Nguni-beeste is deur die program aan hom geleen om mee te teel. Die kudde het gegroei na 147, deel van 500 beeste, 30 varke, 130 bokke en 80 skape op die plaas.

Maar die ooreenkoms is nooit deurgevoer nie en die departement het telkens teruggekrabbel. Verlede jaar het die hooggeregshof in Pretoria beslis dat die staat se onvermoë om die grond aan hom te verkoop, ongrondwetlik is. Die hof het die departement toe gedwing om eienaarskap aan Rakgase te oorhandig teen die prys waarop hulle ooreengekom het.

Rakgase sê hy is op die oomblik besig om die laaste papierwerk te finaliseer, maar dat sy eienaarskap bevestig is, na die oorspronklike koopaanbod van R621 000 uiteindelik gteken is.

Die DA se skaduminister van landbou, Annette Steyn, sê die party is tevrede dat Rakgase sy plaas na ‘n stryd van agtien jaar lank wettig kan besit. “Geregtigheid het geseëvier,” sê Steyn. Sy sê die DA sal ander boere met soortgelyke probleme sonder huiwering bystaan.

“As die ANC regering ernstig is oor grondhervorming en bemagtiging, moes dit ‘n eenvoudige saak gewees het om op te los. Maar in pleks daarvan om mnr. Rakgase ten volle te ondersteun en die  oorspronklike koopooreenkoms te eerbiedig, het die departement alles in sy vermoë gedoen om die lewe vir Rakgase moeilik te maak,” sê Steyn.

Lees nog artikels hier.