Die modeneigings hierdie winter lyk heel anders as vorige jare. Jasse, hoëhankstewels, lang rompe en formele klere is uit. Gemaklike, by-die-huis-dra klere is in.
FiND iT het met mode- en patroonontwerper, Mari-Leen Bauermeister, oor vanjaar se mode-neigings gepraat.
Klere wat jy by huis dra
“Ek kyk baie Sky News en toevallig het hulle daarop ook hieroor gepraat. Omdat ek self mal is oor mode en heeldag daarmee besig is, is sulke neigings vir my interessant. Toevallig het die vrou gesê sy koop glad nie meer dieselfde klere as voorheen nie, want waarheen dra jy dit? Jy kan nou nie meer die oulike partytjierok koop nie, want waarheen gaan jy dit dra? Mense koop definitief klere wat meer by die huis gedra kan word.”
Bauermeister, wie self nie ’n sweetpakbroek besit nie, sê dit is baie ongemaklik om met ’n denimbaadjie of groot jas by die huis rond te loop. “Ek hou van tights en truie. Ek sal bootse of tekkies saam met dit dra. Wanneer ek uitgaan of rondry op die plaas, sal ek ‘n baadjie van K-Way of Poetry dra.”
Mense koop minder
Bauermeister sê mense het minder geld en koop daarom met meer oorleg. “Die neiging is mense koop klere wat beter kwaliteit is, maar wat jy kan laat regmaak. Waar voorheen sou jy byvoorbeeld glad nie iets laat herstel het nie, jy sou dit net uitgooi. Mense koop nie meer glamourous klere nie, want daar is nêrens waarheen jy dit kan aantrek nie.”
Tendens om klere te huur
Nog ’n tendens wat al hoe gewilder raak, is maatskappye wat klere uithuur. “Mense hoef nie klere te koop nie, maar dit eerder huur. As daar ’n geleentheid is waarheen jy deftig moet aantrek, kan jy nou ’n uitrusting huur wat jy na die tyd teruggee. Jy het dus nie daardie groot uitgawe om ’n deftige uitrusting te gaan koop nie.”
Voel altyd mooi
Bauermeister het die volgende wenke vir as jy by die huis is en steeds graag wil mooi lyk: “Ek woon in ’n baie afgeleë area van Namibië. Ek doen moeite om myself elke dag te versorg. Sit mooi groot oorbelle in. Doen elke dag jou grimering. Kikker jou uitrusting op. Dra altyd goed wat vir jou mooi en netjies is. Jy hoef nie verslons te lyk net omdat dit casual is nie. Dit wat jy dra moet steeds in jou smaak val en jou laat goed voel. Moet ook nie klere dra wat geskeur is of gate inhet nie. Laat dit eerder regmaak.”
Sy sê as jy die sweetpakroete wil gaan, kry jy baie modieuse sweetpakbroeke. “Gelukkig is dit baie in die mode. Selfs Mr. Price Sport het op die oomblik baie nice sportklere. ’n Jean is ook altyd ’n wenner met ’n mooi trui.”

Volg Bauermeister op haar Instagram-profiel by marileenbauermeister.



