December 7, 2021

Veilige hawe vir onwelkome babas

Photo: Canva

VAALPARK. – Annemie Schoeman kén die gevoel van mislukking in die stryd om swanger te raak.

Self is sy deur ses IVF-behandelinge voordat sy met haar tweeling swanger geraak het. Haar lewenspad het haar by die begeerte om iets vir onwelkome babas te doen, gebring.

Sy en twee vriendinne het besluit om ʼn veilige hawe te skep vir onwelkome babas. Beslis nie die eerste van die soort nie, maar tog wil hulle hier in Vaalpark ook ʼn verskil maak.

Kan baba in boks in muur los

By Angel Wings is mammas welkom om hulle kinders in ʼn boks in die muur te plaas. Vroue kan anoniem en sonder vrees vir vervolging die baba in die opening in die muur kom sit en wegstap. Daar gaan onmiddellik ʼn alarm binne die veilige hawe af waar personeel permanent aan diens is. Hulle het veiligheidsmaatreëls soos ’n alarmstelsel, elektriese heinings, geslote kringtelevisie en tralies voor al die deure en vensters.

Baba word dadelik versorg

Die baba word aan die ander kant uit die boks gehaal en dadelik versorg. ʼn Insidentverklaring word by die polisie aangegee, hoewel hulle glad nie die mamma vervolg nie. Daarna word die maatskaplike werkers van sosiale ontwikkeling in kennis gestel. ʼn Algemene praktisyn kom die babas gratis ondersoek. Die maatskaplike werker maak seker dat alles volgens wet verloop en die babas geboortesertifikate kry. Al die betrokke persone sal dan voor die landdros verskyn met die nodige dokumentasie. Hulle sien ook om na mishandelde kinders.

90 dae tyd om baba op te eis

Annemie en die ander twee stigterslede maak beurte om die huis elke dag te besoek en seker te maak alles is in orde. ʼn Mamma het 90 dae tyd om haar baba op te eis, daarna hanteer die maatskaplike werker die aannemings. Daar is ʼn groot vraag na aannemings en dis vir Annemie wonderlik wanneer ʼn eens weggooibaba in ʼn liefdevolle huis geplaas word.

Besoek Angel Wings se webtuiste of stuur ‘n e-pos aan [email protected] vir meer inligting.

Lees ook Annemie se eie storie van hoop hier.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *