As jy smag na baba – ma se storie van hoop en IVF

Deel hierdie storie / Share this story

As jy smag na ʼn baba, is dit moeilik om te glo dat daar ouers is wat hul babas weggooi. Tog is dit ʼn nare waarheid. Na haar hartseer stryd om swanger te raak het Annemie Schoeman besluit om vir weggooi babas ʼn heenkome te bied.

Annemie Schoeman het vir jare gesmag na ʼn baba. Sommer gou, slegs ʼn jaar nadat hulle getroud is, het hulle probeer om ʼn kind te hê. Na maande van vrugtelose pogings het sy ʼn afspraak by ʼn ginekoloog gemaak. Sy is op medikasie vir insulien weerstandigheid geplaas. ʼn Paar maande later was daar eindelik twee strepies op die stokkie; sy was vir die eerste keer swanger!

Los insulien-medikasie

Weens onvoorsiene omstandighede het dit lank geneem om by die dokter uit te kom, maar sy het intussen die insulien medikasie gelos. Sy het aangeneem mens mag geen medikasie neem tydens swangerskap nie. Eindelik op nege weke het sy by die ginekoloog uitgekom, maar dit was te laat. Daar was geen hartkloppie nie.

Pyn van verlies

Die pyn van verlies was verskriklik. “Dit het gevoel die wêreld gee onder my mee. Die pyn en hartseer kan jy aan niemand verduidelik nie,” vertel Annemie. Daarna was dit ʼn opdraande stryd om weer swanger te raak. ʼn Vrugbaarheidspesialis het haar op ovulasie-medikasie gesit, aangesien sy glad nie geovuleer het. Nie net het sy soos ʼn donderwolk wat enige oomblik kon losbars rondgeloop nie, maar die medikasie het ook nie gewerk nie. Sy het begin met haar eerste in vitro-behandeling. Sy het die spreekkamer met ʼn tassie vol inspuitings verlaat. Na al die naalde en gemoedstoestande was daar ʼn positiewe bloedtoets op vier weke.

Pyne begin matig

“Ons was so opgewonde en dankbaar, behoorlik in die sewende hemel van geluk,” vertel Annemie. “ʼn Week later was daar ’n pyn aan die kant van my buik. Die dokter het gesê as dit erger raak moet ek kliniek toe kom.” ʼn Paar dae later het hulle besluit om vroeg die oggend dokter toe te gaan. Die oomblik toe sy uit die motor klim kon sy voel iets is nie reg nie. Pyne het matig begin, maar onuitstaanbaar geraak. Sy het ʼn buisswangerskap gehad en die buis het gebars. Inwendige bloeding het veroorsaak dat haar liggaam in ʼn toestand van skok gegaan het. Sy het gesukkel om haar bewussyn te behou. “Dit het gevoel as ek my oë gaan toemaak, is dit verby,” sê Annemie. Sy is dadelik teater toe. Die dokter het ure lank gesukkel om al die bloed te verwyder. Haar hele lyf was blou na die tyd.

IVF en akupunktuur

Haar enigste kans om weer swanger te raak was in vitro-fertilisasie (IVF), aangesien sy haar buise verloor het. “Ek het daarna vier keer vir IVF by ʼn goedkoper kliniek gegaan, aangesien hierdie ʼn baie duur prosedure is. Daarmee saam het ek akupunktuur behandeling gekry. Ek is elke keer met sakke vol inspuiting van die kliniek af. My liggaam was vol hormone gepomp. Met elke negatiewe uitslag het ek gevoel dat ek as vrou misluk. Dit het gevoel of my liggaam wanfunksioneer; my in die steek laat.”

Lei tot depressie

Al die negatiewe emosies het tot depressie gelei. Rondom haar het sy gesien hoe ander vroue swanger raak en babas kry. Dit het gemaak dat sy vol vrae was. “ Hoekom was dit so maklik vir ander, maar nie vir my nie? Sommiges wat so maklik babas kry, wil hulle nie eens hê nie, skeep hulle af of mishandel hulle selfs. Baie trane het gevloei en elke dag was ʼn stryd. Elke dag het ek gesmag na ʼn baba.”

Swanger na sesde IVF

Teen die sesde IVF het haar moed haar amper begewe, maar sy kon net nie opgee nie. Die hormone het hoofpyn, naarheid en emosionele buie veroorsaak. Sy was so omtrent moeg vir naalde in haar maag. Al hierdie dinge was op die ou end die moeite werd; sy het swanger geraak met tweeling seuntjies. Tydens die swangerskap het sy drie keer begin bloei. Hulle het elke keer na die ginekoloog gejaag en die ergste verwag. Op 31 weke het sy begin ontsluit. Sy kon skaars loop met die groot maag, daar was nie genoeg plek vir die twee babatjies nie. Die ginekoloog het op 33 weke besluit om haar in die hospitaal op te neem. Na twee weke breek haar water op 35 weke en sy kry ʼn noodkeiser.

Sy is geseën met ʼn pragtige tweeling wat nou in graad twee is. Tog wil haar hart breek elke keer wanneer sy hoor van babatjies wat op ashope, in drein pype en soms selfs in toilette gevind word. Wanneer die desperate ma eenvoudig van haar pasgebore baba probeer ontslae raak. Sy wat vir jare gesmag het na ʼn babatjie. Sy gun geen ander smagtende mamma die pyn waardeur sy gegaan het nie.

Lees ook die artikel oor hoe Annemie ‘n veilige hawe vir onwelkome baba’s gestig het.