Hier is jou kans om ’n anonieme vraag oor jou verhouding te vra. Stuur jou anonieme vraag na [email protected].
Anonieme lesersvraag:
Hi. Ek is in my laat 30’s en my vrou is in haar vroeë 30’s. Ons is nou agt jaar getroud. Ons het twee kinders saam en ek het ’n kind uit ’n vorige verhouding. Die kinders kom goed oor die weg. Ek en my vrou kan deesdae nie meer met mekaar gesels nie. Sy hou van stry. Het sy dalk iemand anders in haar lewe? Sy bly stry en ons het ’n helse silent mode wat by die huis plaasvind. Vir elke geleentheid gaan sy werk toe en gaan tot ekstra werk toe, wat sy nooit voorheen gedoen het nie. Sê my asseblief wat gaan aan.
Antwoord:
Anoniem, die beste sal wees om jou vrou te vra of julle ernstig kan sit en praat. Julle sal moet seker maak daar is niks wat julle aandag kan aftrek nie. Laat die kinders by iemand gaan kuier of sit vir hulle ’n fliek in ’n ander vertrek aan. Bêre julle selfone en sit die televisie af. Vra jou vrou om saam met jou te gaan sit. Verduidelik aan haar julle moet ernstig praat en vra haar om eerlik met jou te wees. Jy sal baie rustig moet vra wat sy dink die probleem in julle verhouding is en hoe sy dink julle dit kan oplos. Luister na wat sy sê en wag totdat sy klaar gepraat het voordat jy iets sê. Vra haar hoekom sy meer as normaal werk. Vra haar of sy nog lief is vir jou en kans sien om die huwelik te herstel. Probeer om nie opgewerk te raak nie, maar eerder so kalm as moontlik te bly. Indien julle nie die probleem so kan uitsorteer nie, stel ek voor julle gaan ’n huweliksberader sien.



