Ouers spoor ontvoerde seun na 32 jaar op

Deel hierdie storie / Share this story

Toe haar seun op tweejarige ouderdom ontvoer is, het ’n mamma nie moed opgegee nie. Sy het uit haar werk bedank en al haar tyd bestee om na haar vermiste seun te soek. Nie net het sy hom na 32 jaar opgespoor nie, maar sy het ook 29 ander kinders in die proses gered.

Ontvoer

Mao Yin, nou 34, is in 1988 ontvoer toe sy pa hom by ’n kleuterskool in die Shaanxi-provinsie in China gaan haal het. Mao se pa het vir ’n paar sekondes weggekyk, maar dit was net genoeg vir iemand om Mao te gryp en weg te neem.

Sy ma, Li Jingzhi, het haar werk gelos sodat sy al haar tyd kon bestee om haar vermiste seun op te spoor. In die strewe om Mao te vind, het sy meer as 100 000 pamflette uitgestuur en haar verhaal op talle nasionale TV-programme vertel.

Ander kinders gehelp

Intussen het Li ook as vrywilliger by ’n groep met die naam Baby Come Back Home, wat inligting oor vermiste kinders versamel en help om hulle weer met hul gesinne te verenig, begin werk. Terwyl sy daar ’n vrywilliger was, het sy 29 ander vermiste kinders gehelp om na hul gesinne terug te keer.

Opgespoor na 32 jaar

Aan die einde van April het iemand die Xi’an-polisie laat weet ’n man het ’n kind in die 80’s in die provinsie Sichuan ingebring. Die polisie het gesigsherkenningstegnologie op ’n  foto van Mao as baba gebruik, ’n  beeld gesimuleer wat gewys het hoe hy as volwassene moet lyk, en ’n man in die stad Mianyang opgespoor wat lyk soos hul gesimuleerde beeld. Nadat hulle ’n DNS-toets gedoen het, het dit duidelik geword dat Mao inderdaad die verlore seun van Li Jingzhi is waarna sy 32 jaar lank gesoek het. Li en die man se pa, Mao Zhenjing, het die goeie nuus op Moedersdag ontvang. Mao is deur sy aanneemouers as Gu Ningning grootgemaak en het nooit van sy biologiese ouers geweet nie. Dit blyk dat sy ouers uiteindelik die gelukkige einde gekry het waarna hulle na 32 jaar gesoek het.