Kerke weer oop op 1 Junie

Deel hierdie storie / Share this story

President Cyril Ramaphosa het in sy toespraak vanaand 26 Mei die nasie toegespreek oor die Covid-19-pandemie en die heropening van kerke op 1 Junie asook ‘n nasionale biddag aangekondig.

Geloofsleiers het die regering genader oor ‘n nasionale biddag. Die nasionale koronavirus-raad het die voorstel bespreek en daar is besluit om ‘n nasionale biddag op Sondag 31 Mei te hou.

Die president doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners om, maak nie saak waar jy is nie, maak nie saak of jy gelowig is of nie, te dink aan dié wat met die virus geïnfekteer is, diegene wat weens die virus oorlede is en die familielede en vriende van dié persone.

Hy sê verder die nasie se fokus behoort nou te wees om mekaar te probeer bemagtig en moed in te praat om om die res van hierdie pandemie te oorleef.

Hy sê spirituele en sosiale verligting is nou baie belangrik.

Volgens die president het die pandemie tot dusver die liefdadigheid en goeie werke, soos om die honger mense te voed en die siekes te versorg, in die land na vore laat kom.

Die land maak gereed om op 1 Junie na vlak drie van inperking te skuif en deel van die regulasies wat verslap sal word gedurende dié vlak, is die beperkings op die byeenkomste in kerke, sinagoges, tempels, moskees en ander plekke van aanbidding.

Die plekke mag gedurende vlak drie oopmaak, met die voorwaardes dat slegs 50 persone op ‘n slag toegelaat sal word, sosiale distansiëring steeds gehoorsaam word en maskers deur almal wat die byeenkoms bywoon, gedra word.

Hy sê die plekke moet protokolle in plek hê soos deeglike ontmetting voor en na dienste. Rituele, selfs met die kleinste moontlikheid om persone aan die virus bloot te stel, behoort baie versigtig genader te word.