My kind gebruik dwelms, hoe nou?

Deel hierdie storie / Share this story

In vandag se tyd is dwelms ’n algemene ding. Dwelmhandelaars is die strate vol en dwelms is vir byna enigiemand toeganklik. Soveel jongmense beïnvloed mekaar om tog “net een keer te probeer.”

“Almal sê altyd dis net een keer se probeer wat jou verslaaf maak,” sê ’n eks-dwelmverslaafde van Kimberley. “Ek wou dit om een of ander rede nooit glo nie. Ek was nog altyd iemand met ’n baie sterk wil. Ek was oortuig daarvan dat ek sou kon nee sê wanneer ek wou.”

“Ek was binne die eerste paar sekondes verslaaf, al het dit my ongeveer twee jaar gevat om dit te besef. Wanneer jy in daardie oomblik is, vergeet jy van al die flieks en plakkate wat jou al ooit teen dwelms gewaarsku het.”

Geen ouer wil sy of haar kind aan die dwelmwêreld em die gruwelike dinge wat normaalweg daarmee gepaard gaan, afstaan nie.

Ongelukkig is dit iets wat met enigeen kan gebeur. “Dit was één dom besluit. Toe ek twee jaar later tot my sinne kom, was dit byna te laat. Op 21 het ek al myself vir twee jaar lank vol gif gespuit, die binnekant van ’n tronksel gesien en saam met kriminele uitgehang,” vertel die meisie.

Sy praat oor hoe goed sy op skool presteer het, wat haar planne vir die toekoms was en hoe sy onverwags weggeraak het. “Ek noem dit weggeraak, want jy raak regtig weg. Jy vergeet van alles wat saakmaak en dis asof alles wat jou jóú maak, verdwyn.”

Dit was kort ná sy haar matriekjaar voltooi het. Haar ouers het gespog oor die drie onderskeidings op haar matrieksertifikaat en haar universiteitstoelating.

Uit ’n ouer se oogpunt

Dis belangrik om so gou moontlik te besef wanneer jou kind hulp nodig het. Let op na dinge soos gewigsverlies, verandering in buie of belangstellings, optrede en vlakke van aggressiwiteit, sê ’n ma van ’n eks-dwelmverslaafde in Kimberley.

Moenie jou kind konfronteer nie. Om jou kind te laat voel asof jy hom in ’n hoek vasdruk, is nié wat jy wil hê nie.

Jou kind sal nie altyd dadelik aan jou erken dat hy of sy ’n probleem het nie. Probeer met die tyd saam aan jou kind te verduidelik hoe belangrik ’n rehabilitasieprogram is om uit daardie gat uit te kom.

“En bid, hou aan bid.”