The New York Times, die toonaangewende koerant in Amerika, het vandag op hulle voorblad ’n lys van byna 100 000 persone se name wat al weens die Covid-19-virus in dié land oorlede is, gepubliseer.
Dié land nader vinnig die hartseer mylpaal van 100 000 sterftes.
Volgens die koerant is die sterftes almal oor ’n tydperk van drie maande aangemeld, wat ’n gemiddeld van 1 100 sterftes per dag beteken.
Die lys van persone sluit die oorledenes se ouderdomme asook beroepe in. Persone van so jonk as 25 en so oud as 97 jaar is oorlede.
Die name is van persone wat in die Viëtnamese oorlog geveg het, tot ’n gewone huisvrou wat mal was daaroor om Griekse kos te kook en te dans.
The New York Times berig die inligting van elk van die oorledenes is in doodsberigte gekry.
Een van die inskrywings op hulle webtuiste lui:
“Hy is dalk in ’n ouetehuis oorlede, met sy vrou wat hulpeloos deur die venster moet toekyk hoe haar ander helfte wegraak.”
“Hulle is dalk in aparte woonstelkamers oorlede, te bang of onseker om hospitaal toe te gaan, met hulle naaste familielede aan die ander kant van die wêreld.”
“Sy is dalk in ’n oorvol hospitaal oorlede. Sonder haar dogter aan haar sy om vir ’n laaste keer te sê: “Dankie, Ma. Ek’s lief vir jou.””



