Bethal-inwoners tot ses keer per dag sonder krag

Deel hierdie storie / Share this story

MPUMALANGA. – Die gereelde beurtkrag in Bethal is die gevolg van ‘n substasie wat nie die aanvraag na Bethal, sowel as Emzinoni, ‘n aangrensende dorp, kan voorsien nie.

Daar vind dus tot ses kragonderbrekings per dag plaas. Só sê Werner Weber, VF Plus-LPW en provinsiale leier.

“Tydens ‘n aanlyn-portefeuljekomiteevergadering oor die aangeleentheid, het verteenwoordigers van Eskom gesê dat hulle weens uitstaande skuld van R1.7 miljard van die Govan Mbeki-munisipaliteit, nie bereid is om die uitset van die substasie te verhoog nie.

“Die situasie is onaanvaarbaar en die munisipaliteit se optrede is ʼn belediging vir die inwoners van Bethal wat wel gereeld hul rekenings betaal, maar wat nou weens die wanbetaling van ander en van die munisipaliteit moet boet,” sê Weber.

“Die ANC moet aanvaar dat daar ‘n probleem in Bethal is en moet dringend optree teen onwettige aansluitings en wanbetalers. Agterstallige skuld moet ingevorder word en vrugtelose en verkwistende uitgawes van openbare fondse moet stopgesit word.

“Die VF Plus dring aan op antwoorde van die munisipaliteit en van die departement oor die aangeleentheid. Wetsgehoorsame betalers kan nie gestraf word weens die onbevoegdheid van die munisipaliteit en die wanbetaling van ander nie.”

*Persverklaring

In ander nuus, skuif Suid-Afrika op 1 Junie na vlak 3 van inperking. Lees meer hier.