President Cyril Ramaphosa het vanaand in sy toespraak aan Suid-Afrika gepraat oor die Covid-19-uitbraak in die land en die reëls en regulasies van die vlakke van inperking.
Hy sê 82 van die net meer as 11 000 aktiewe Covid-19-gevalle in die land is in die hospitaal. Daar is volgens die president 429 sterftes weens die virus in Suid-Afrika bevestig. Meer as 5 miljoen persone is geskandeer en meer as 500 000 is getoets vir die virus.
Daar word tans 27 hospitale in die land gebou vir pasiënte wat met Covid-19 gediagnoseer word.
“Totdat daar ‘n inenting teen die virus ontwikkel is, sal die virus aanhou versprei. Tot dan sal ons moet leer om met die virus saam te leef. Die regering befonds tans verskeie programme om ‘n inenting teen die virus te ontwikkel,” sê die president.
Die modelle wat ontwikkel is om die impak en verspreiding van die virus met behulp van wetenskaplike data te voorspel, het tot dusver twee dinge vasgestel.
Die pandemie in Suid-Afrika sal baie erger raak voor dit beter raak. Die impak van die virus hang af van ons aksies as ‘n gemeenskap en ons optrede as individuele.



