KIMBERLEY – ‘n Kubaanse paartjie is baie ongelukkig oor hulle glo aanlyn aansoek gedoen het om hulle permitte te verleng, ‘n afspraak gemaak het en toe hulle by die fasiliteitsentrum visas en permitte in Kimberley opdaag, en hulle in ‘n geslote deur vasgeloop het.
Die paartjie, wat anoniem wil bly, woon op Kuruman en wou hulle permit om in Suid-Afrika te bly, verleng. Volgens hulle is daar ‘n kennisgewing op die fasiliteitsentrum se deur wat lui dat die sentrum vir aansoeke tot en met 13 April gesluit is.
Die webtuiste waarop die paartjie sê hulle aansoek gedoen het, het glo ‘n betaling van R1 500 van die paartjie gevra as deel van hulle aansoek.
“En nou sê die e-posse wat ons ontvang het dat daar vir die volgende afspraak nóg ‘n betaling van R1 500 gevra word! Dis belaglik. Ek weet nie wat ons nou veronderstel is om te doen nie.”
Die paartjie sê hulle het besluit om maar terug te ry Kuruman toe en aan te hou bel en e-posse te stuur totdat hulle antwoorde kry.



