Covid-19: Vroulike dokter by Kimberley-hospitaal toets positief

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Een van die vroulike dokters by die Robert Sobukwe-hospitaal in Kimberley het gister haar Covid-19-uitslae ontvang. Die uitslae was positief en daar is nou dus 38 persone wat in die Noord-Kaap positief vir die virus getoets het.

Volgens Lebogang Majaha, woordvoerder vir die departement van gesondheid in die Noord-Kaap, sê dié dokter het by die huis gaan self-isoleer toe sy haar uitslae ontvang het. Volgens Majaha het die departement voorsorg getref terwyl hulle vir die uitslae gewag het deur ‘n opsporingspan die hospitaal in te stuur. Hy sê persone wat moontlik met die dokter in kontak was, is getoets en in kwarantyn geplaas tot hulle uitslae bekend is.

Majaha sê verder die Sol Plaatje-munisipaliteit het die geïnfekteerde areas in die hospitaal oornag gesteriliseer.

Die LUR van die departement sê die departement sal sorg daarvoor dat alle gesondheidswerkers van die nodige beskermende toerusting voorsien word. Sy het ook klem gelê op die departement se plan om al die pasiënte by dié hospitaal en al die persone wat die dokter as moontlike kontakte bevestig het, op te spoor en te toets.