Winkel-eienaar agter tralies oor verkoop van sigarette

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Die eienaar van ‘n supermark hier is in hegtenis geneem op aanklag van die verkoop van sigarette tydens die grendeltydperk.

Volgens brig. Mohale Ramatseba, polisie-woordvoerder, het speurders van die Noord-Kaapse provinsiale georganiseerde misdaad-eenheid die man op 19 Mei betrap toe hy sigarette aan klante verkoop het.

Hy sê die polisie het hom in hegtenis geneem en ook die supermark deursoek. Hulle het afgekom op hookah pyptabak, BB-tabak en snuif, wat in die winkel versteek was.

Ramatseba sê die polisie in die Noord-Kaap sal voortgaan om Covid-19-regulasies af te dwing om te verseker dat die publiek en sake-eienaars aan die Wet op Rampbestuur voldoen.

Die verdagte sal na verwagting môre in Kimberley se landdroshof verskyn.