Kan ouers nog skoolfonds betaal in die inperkingstydperk tydens die Covid-19 krisis?
FiND iT het met verskeie ouers gepraat en uiteenlopende reaksies ontvang.
Ja, betaal en basta!
Sommige ouers voel skoolfonds is ‘n moét. “Ek betaal nog die heeltyd my kinders se skoolfonds, want skole is afhanklik daarvan. Dis waarmee hulle beheerliggaamposte betaal.”
‘n Ander ouer sê as alle ouers voel hulle moenie betaal nie, gaan skole nie kan voortbestaan nie. “Hoe dink jy moet die skool bestaan as al die ouers net ophou betaal? Die skool het ook mos uitgawes nes almal van ons. My kinders kry elke dag werk wat hulle moet doen en die skole sal mos opvang die werk wat hulle gemis het.”
‘n Kleuterskoolonderwyser sê die skool se voortbestaan hang af van of ouers betaal of nie. “As die skool oopmaak en jy het nie betaal nie, sit jou kind dalk sonder sy of haar geliefde juffrou.”
Nee, want ekself het nie inkomste!
Aan die ander kant voel sommige ouers hulle eie inkomste is onder druk. Spesifiek ouers wie besigheidseienaars is, trek swaar. “As die ouers nie ‘n inkomste het nie, word die kind benadeel. Besighede het ook lopende uitgawes en baie besighede betaal hulle werknemers uit lenings wat hulle by die bank maak. Moenie dink UIF betaal uit nie! Dit moet ook weer terugbetaal word. Hoekom kan skole ons nie tegemoet kom nie?”
Nog ‘n ouer sê sy kan eenvoudig nie haar kind se dagsorg betaal nie. “Ek moes iemand aanstel om na my kind te kyk terwyl ek van die huis af werk. Alhoewel ek van die huis af werk, werk ek voltyds. Ek kan nie dan na my kind ook kyk nie, dis nie moontlik nie. As enkelouer kan ek nie my werk verloor nie. Ek kan nie bekostig om dubbel vir kindersorg te betaal nie.”
‘n Ander ouer glo die regering moes skole bystaan, sodat die onus nie op die ouer rus nie. “As ek kon betaal, het ek. Ek het eenvoudig nie die geld nie. My kinders moet steeds huiswerk by die huis doen, ook iets waarvoor ek nie tyd het nie, want ek werk weer. My salaris is gesny en ek werk vir minder geld. Daardie geld moet opgemaak word in sny waar ek kan. Ek het klaar gesny waar ek kan en daar is eenvoudig nie geld nie. Ek het ook ‘n woonstel wat ek uitverhuur en die huurder kon nie betaal nie. Ek moes ‘n toegewing maak, hoekom kan skole nie ook nie?”
Departement sê: betaal asb.
Lehuma Ntuane, woordvoerder vir die departement van onderwys in die Noord-Kaap, kon nie bevestig of ouers wie nie betaal nie, se kinders benadeel sal word as die skole weer begin nie. Baie ouers is bang as hulle nie betaal nie, kry hulle kind nie volgende jaar plek in die skool nie.
“Die departement weet huishoudings trek swaar en baie mense het hulle werk verloor, maar ons moedig ouers aan om skoolfonds te betaal. Skole het lopende uitgawes soos beheerliggaamposte, munisipale rekeninge en ander uitgawes.”
Ntuane beveel aan as ouers nie kan betaal nie, om ‘n reëling met die skool te tref.



