Parmantige swart swaan vlieg oor muur

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – ‘n Swart swaan het dié saai Maandagoggend in Verwoerdpark op sy kop gedraai toe die voël amper deur ‘n hond verorber is.

Ina Barnard, inwoner van Verwoerdpark, sê sy was in die huis toe sy haar hoenders hoor raas.

Sien groot swart voël in erf

“Ek het gaan kyk en sien toe ‘n groot pikswart voël in die agtererf loop. Sy kop was amper so hoog soos my middellyf. Hy het in die agterplaas geloop asof dit aan hom behoort.”

Vinnig het die boodskap op die West End Crime Watch Whatsapp-groep versprei oor die voël wat doodluiters in die Barnard’s se tuin rondloop.

Hond sou storm

“Ek het ‘n Labrador gekruis met ‘n Rottweiler en het geweet as my hond die voël sien is daar moeilikheid. Ek sê toe vir my seun hy moet my help dat ons die voël uitkry. Soos ons die voël by die hek probeer uitjaag, hoor my hond die hek en storm op die voël af. Gelukkig kon ek keer dat hy die voël aanval. Dit sou tragies wees. Hy sou die voël doodgemaak het, want hy is baie swaar en groot teenoor die voël.”

Vlieg weg

Barnard sê die voël het weer in die agtererf gaan sit. “Ek dink hy het seker weer daar asem geskep. Ek het intussen die dierebeskermingsvereniging gebel, maar hulle kon nie help nie. Ek het uiteindelik by Dawie Griesel uitgekom en hy het gesê hy sal my kom help. Terwyl ek nog op die foon was, het die voël oor die muur gevlieg en was uit my erf uit.”

Vlieg na buurman

Marius van der Walt, die Barnard’s se buurman, sê hy was in sy huis besig toe hy ‘n toeter van ‘n motor voor sy huis hoor. “Ek het uitgegaan en gesien die ding hardloop hier rond. Die mense het gesê dis hulle swaan en hulle het die voël saam met hulle gevat.”

Griesel sê hy het die oproep van die inwoner ontvang en was op pad om haar te gaan help, toe sy laat weet dis nie meer nodig nie.

“Ek hoop net die voël is na ‘n veearts geneem om seker te maak hy is nie beseer nie.” Hy is nie seker of inwoners ‘n permit nodig het om ‘n swaan aan te hou nie.