Verdagte vas ná kokaïen glo in houer gevind is

Deel hierdie storie / Share this story

PRETORIA – ‘n Vraghouer-vragmotor onderweg na Kaapstad met kokaïen ter waarde van meer as R30.4-mijoen is pas onderskep.

Lt. kol. Philani Nkwalase, polisie-woordvoerder, sê die direktoraat vir Voorkeur-misdaadondersoek se narkotiese eenheid het vinnig op inligting gereageer en die vragmotor Sondag in die vroeë oggendure by ‘n garage op die N1 onderskep.

“Die vraghouer is deursoek, waarop die polisie ‘n totaal van 38 pakkies kokaïen van 1 kg elk gevind het. ‘n Man (37) is in hegtenis geneem en ‘n voertuig wat gebruik is om die dwelms af te haal is ook gekonfiskeer,” het hy gesê.

Volgens Nkwalase het voorlopige ondersoeke getoon dat die vraghouer van die buiteland afkomstig is. Dit is deur verskillende provinsies vervoer voordat dit onderweg Kaapstad toe is.

Lt.-genl.  Godfrey Lebeya, nasionale hoof van die narkotiese eenheid, het die span vir hul werk geloof.

“Hierdie konfiskering en talle ander soortgelyke vondse wat onlangs gemaak is, wys dat die kanale van georganiseerde misdaadgroepe gebreek is.”

Hy het ook ‘n beroep gedoen op die publiek om nie sulke groepe te ondersteun deur dwelms te koop nie – dit sal net die sindikate aanmoedig om nuwe maniere te vind om dié gevaarlike middels te verskaf, het hy gesê.

Die verdagte sal na verwagting môre in die landdroshof te Blue Downs, Kaapstad, verskyn.