Weense worsies kry sommer ‘n splinternuwe gewaad in hierdie heerlike rol. Sit dit warm voor met slaai. Die hoeveelheid worsies in die vulsel kan wissel van 100 g tot 250 g. Die resep lewer ses tot agt porsies of 15 tot 18 skywe.
Kors:
275 g (500 ml, ongesif afgemeet) koekmeelblom
20 ml bakpoeier
2 ml sout
125 g botter of margarien, by kamertemperatuur
150 ml melk
Vulsel:
250 g Weense worsies, grof gerasper
200 g (500 ml) gerasperde Cheddar-kaas
40 g (50 ml) botter of margarien, by kamertemperatuur
1 uitjie, fyngekap
7 ml Worcester-sous
7 ml aangemaakte mosterd
1 eiergeel en 25 ml melk, saamgeklits
Varsgekapte pietersielie of ander kruie
Metode:
Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer ‘n bakplaat of bespuit dit met kleefwerende sproei. Sif die koekmeelblom, bakpoeier en sout saam. Vryf die botter of margarien liggies met die vingerpunte in die meelmengsel tot goed gemeng. Sny die melk met ‘n slaplemmes in die meelmengsel terwyl dit geleidelik in ‘n straaltjie bygevoeg word. Die deeg moet taamlik ferm wees. Rol die deeg op ‘n meelbestrooide deegplank uit in ‘n reghoek van 35 x 27 cm.
Meng die Weense worsies, kaas, botter or margarien, uitjie, Worcester-sous en mosterd goed saam. Smeer die mengsel ewe dik oor die deeg.
Rol die deeg soos ‘n rolkoek van een kort sy af op met die vulsel tussenin. Plaas die rol op die bakplaat. Sny die rol in dunnerige skywe met ‘n skerp mes, maar moenie die rol tot onder deursny nie. Trek die skywe effens uitmekaar en verf eiermelk bo-oor.
Bak die rol vir 20 minute of tot ligbruin en gaar op die middelste oondrak. Strooi dan die pietersielie of ander kruie oor en sit warm voor.
Resep: Huisgenoot Wenresepte 2, Annette Human



