Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma wil weet “wie is die Max Hurrel” wat haar toespraak oor “zolle” in ‘n humoristiese video verander het.
Dié video, deur Max Hurrel, ‘n DJ, spot met die slang woord, “zol”, wat Dlamini-Zuma in haar toespraak oor hoe Suid-Afrikaners moet veilig bly tydens die Covid-19 krisis gebruik het.
Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het in haar toespraak gewaarsku teen daggarokers wat nie tydens die inperkingsperiode ‘zolle’ moet deel nie. Sy sê in haar toespraak die spoeg wat gebruik word om die daggasigaret te plak, kan die Covid-19-virus laat versprei.
Hurrel het besluit om musiek by dié stukkie van haar toespraak te voeg en dit in ‘n humoristiese video te verander.
Dlamini-Zuma het op dié video, wat wyd op sosiale media versprei is, gereageer deur te twiet “Wie is hierdie Max Hurrel? Ons moet praat.”
Lungi Mtshali, die minister se woordvoerder, sê die minister het nie ‘n probleem met kunstenaars se kreatiwiteit nie en weet die video is nie gemaak om moeilikheid te veroorsaak nie.
Hurrel het aan BBC gesê hy het die video gemaak om Suid-Afrikaners bietjie te laat lag in hierdie moeilike tyd. Hy sê: “Ek het soveel boodskappe ontvang van mense wat dankie sê vir die opkikker. Ek is dankbaar dat ek soveel mense kon laat beter voel,” berig BBC.



