Data beloftes: SPU-studente wag steeds

Deel hierdie storie / Share this story

Studente aan die Sol Plaatje-universiteit sou Maandag data vanaf MTN ontvang het om met aanlyn-klasse te kan voortgaan. Aangesien die universiteit nie met klasse kan voortgaan soos normaal nie, moet studente nou tuis aanhou werk.

Volgens ‘n student het sommige van sy mede-studente hulle data ontvang en kan hulle voortgaan met die aanlyn-oriëntering wat deur die universiteit aangebied word. Hy is ontsteld en sê dié oriëntasie maak volgens sy kennis Saterdag klaar.

“Dit voel asof ek my registrasie aan die universiteit wil onttrek.”

Kashini Maistry, senior bestuurder van die Sol Plaatje-universiteit se kommunikasie en bemarkingsafdeling, sê die universiteit het Dinsdag 12 Mei ‘n aanlyn oriënteringsprogram begin om studente te help om die stelsel en hulpbronne wat vir aanlyn klasse daargestel is, beter te verstaan.

Sy sê die program is sover suksesvol vir die studente wat toegang daartoe kon kry.

“Die uitdaging is dat nie alle studente die MTN-datapakkette ontvang het nie. Die universiteit werk deurgaans om die vertraging in die verskaffing van datapakkette aan studente op te los. Ons het ‘n beroep op studente gedoen wat nog nie hul korrekte kontakbesonderhede verskaf het nie, om dit onmiddellik te doen.”

Sy sê die universiteit het die oriënteringsprogram uiteengesit om dit vir alle studente moontlik te maak en sal voortgaan om die program aan te bied totdat al die studente die datapakket ontvang het.

Sy sê die universiteit onderhandel met nasionale strukture om leersentrums te bekom wat deur die studente gebruik kan word, selfs in gebiede waar daar geen toegang tot elektrisiteit of die internet is nie.

“Met die eerste sessie wat Maandag 18 Mei gehou word, hoop ons om die geleentheid vir e-leer aan die meerderheid van ons studente te bied. Sol Plaatje-universiteit is gelukkig om so vroeg in hierdie digitale omskakeling in so ‘n sterk posisie te wees.”