Angie Motshekga, die minister van basiese onderwys, beplan ‘n vergadering met al die ministers van onderwys om die vordering in verband met die heropening van skole te bespreek.
Luidens ‘n verklaring van die departement van basiese onderwys, is daar ná Maandag se vergadering ooreengestem op nog tyd vir sommige provinsies wat nog nie gereed is vir die heropening van skole nie.
“Tydens Maandag se vergadering het ons besluit dat een week se tyd genoeg is om die uitstaande te finaliseer. Maandag 18 Mei sal ons weer vergader en dan die gereedheid aan die publiek bekendmaak,” sê minister Motshekga. “Baie werk is afgehandel en ons is tevrede met die vordering tot dusver. Ons wag vir bevestiging van toerusting wat nog vir sekere provinsies afgelewer moet word.”
Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van die departement van basiese onderwys, sê die president se boodskap gister 13 Mei aan Suid-Afrika sal ‘n rol speel in die implementering van die onderwysdepartement se benadering tot die heropening van skole. Hy sê die basiese onderwys-sektor se benadering is op drie faktore gebaseer; om lewens te spaar, om die akademiese jaar te red en die monitor en evaluasie van die plan.





