Verskrikte kind glo “in terme van Kinderwet” hanteer

Deel hierdie storie / Share this story

BALLITO. – Die twee vredesoffisiere van die KwaDukuza-munisipaliteit, wat daarvan beskuldig is dat hulle ‘n seuntjie hardhandig behandel het, het korrek opgetree.

Volgens Sipho Mkhize, munisipale woordvoerder, het ‘n interne ondersoek getoon dat die kind hanteer is “in terme van die Kinderwet” en dat die kind bloot “na veiligheid gebring is nadat sy pa in hegtenis geneem is”.

Gryp verskrikte kind

‘n Video van die voorval, wat wyd op sosiale media versprei is, het groot opspraak verwek. Daarin kan gesien word hoe die offisiere ‘n verskrikte kind gryp en terselfdertyd keer dat ‘n man, moontlik die pa, die kind uit hul arms haal.

Verskeie politieke partye het die beweerde hardhandige optrede van die offisiere veroordeel.


Hier is die video:

https://www.facebook.com/finditnuus/videos/1389901867860590/?t=0

Reageer op klagtes

Volgens Mkhize het die offisiere vroeër dié oggend klagtes ontvang oor mense wat nie die Wet op Rampbestuur by die strand naby Shaka se Rots nagekom het nie. “Die offisiere het omstreeks 8:45 daar opgedaag en het mense op die strand gesien – wat nie toelaatbaar was tydens vlak-4 van die inperkinsmaatreëls nie. Die offisiere het dié mense ingelig dat hulle oortree het, hulle hul regte voorgehou, en elf mense in hegtenis geneem. Sewe kinders was op dié toneel. Vier kinders is volgens voorskrifte veilig en sonder dat hulle iets oorgekom het, by hul huis besorg. Die ander drie kinders is ook veilig by hul tuiste gebring – op dieselfde perseel as wat op die video vertoon word.”

Dit is nie bekend of daar enige volwassenes tuis was by die huise waarheen die kinders geneem is nie.

Persoon wie video neem, ook in hegtenis

Volgens Mkhize is die persoon wat die video geneem het, ook in hegtenis geneem.  

“Dit is die offisiere se verantwoordelikheid om, soos in hierdie geval (wanneer mense in hegtenis geneem word), te verseker dat die kinders veilig is en na ‘n veilige bestemming geneem word – soos wat hier gebeur het.

“Elf inhegtenisnemings is op dié betrokke dag weens die Wet op Rampbestuur, Regulasie 24(2)(a) uitgevoer weens hul teenwoordigheid op ‘n plek wat tydens die inperking verbode was – openbare parke, sportgronde en –velde, strande en swembaddens.


“Ons is ingelig dat die man wat die drama veroorsaak het deur weg te hardloop om inhegtenisneming te vermy, ‘n werknemer by die Departement van Gesondheid by die Hoofman Albert Luthuli-hospitaal was.”

Hy het beklemtoon dat die betrokke twee vredesoffisiere korrek opgetree het.