NOORD-KAAP. – Van die ongeveer 583 skole in die Noord-Kaap sal byna elke skool se bestuurspan vanaf die 18de Mei 2020 hulle vere regskud vir die res van die skooljaar.
Skole word ontsmet
Die Noord-Kaap departement van onderwys en die departement van gesondheid is tans besig met groot voorbereiding. Skole word tans ontsmet en van die nodige ontsmettingsmiddels voorsien om sodoende seker te maak hulle is gereed vir die 18de Mei 2020.
Proses verloop goed
Henk Brand, provinsiale sekretaris van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) in die Noord-Kaap, is gemaklik dat die proses tot dusver goed verloop het. “Ons verwelkom die oopmaak van skole op voorwaarde dat alle skole aan die gesondheidsvereistes voldoen.” Natuurlik is daar haakplekke en dis onmoontlik dat dat so ‘n voorbereidingsaksie 100% glad sal verloop,’’ sê Brand.
Gemengde gevoelens
Daar is egter gemengde gevoelens by van die onderwysers. Na aanleiding van ’n opname gemaak deur SAOU se lede, het ’n derde aangedui dat dit onveilig sou wees indien onderwysers en leerlinge haastig is om terug te keer. Meeste voel dat hulle lewens bedreig word deur die virus en die kinders se veiligheid ten alle tye eerste gestel moet word.
Taakspanne aangestel
Intussen is daar reeds taakspanne deur die nasionale departement van onderwys aangestel wat omsien na die kurrikulum en hoe dit aangepas moet word vir die res van die 2020 termyn. Die waarskynlikheid bestaan ook volgens Brand dat belangrike vakke soos Wiskunde, Afrikaans en Engels voorkeur sal geniet.
Moontlike aanpassings
Brand is positief indien alle skole flink aan die werk spring, onderwysers die skoolwerk wat agterweë gebly het, ten minste vir graad 12, voor die Desember-eksamen sal kan inhaal. Met die Junie-eksamen wat reeds afgestel is, kan moontlike aanpassings aan die kurrikulum gemaak word, met die uitsluiting van die gr. 12 en moontlik die gr. 7’s.
Die moontlikheid bestaan ook dat slegs gr. 7 en 12 ’n kort breuk van ’n week in Julie kan verwag maar die res van die leerlinge wat eers later inval dit nie beskore is nie.
Die leerlinge wat her-eksamens en aanvullende eksamens moet skryf, staan tot Desember oor. “Dit kan ’n logistieke probleem veroorsaak. Daar gaan ongeveer 250 000 ekstra vraestelle gemerk moet word. Met alle buitemuurs wat wegval behoort die opvang van agterstallige werk dalk plek maak vir ’n verlengde skooldag, maar daar moet steeds uitsluitsel daaroor gekry word,” beaam Brand.



