KIMBERLEY – ‘n Ma van ‘n sieklike seuntjie van Kimberley klink moedeloos wanneer sy praat van haar gesukkel die afgelope twee maande. Juanita van Heerden maak staat op die onderhoud wat die pa van haar seun maandeliks betaal.
“Die geld sou op 24 April in my rekening oorbetaal word,” sê Van Heerden. “Toe dit nie in my rekening verskyn het nie, het ek die hof gebel. Die enigste verduideliking wat ek van hulle gekry het, is dat die rekenaars af is en dat hulle my nie sal kan help nie.”
Van Heerden sê sy het menigmaal probeer om antwoorde te kry, maar het gister besluit om hof toe te gaan.
“Ek is eers weggewys oor die rekenaarstelsels af is. Toe ek aan die een dame verduidelik dat my seuntjie sieklik is, het sy my na iemand anders verwys. Ek het met die persoon gaan praat en hy het vir my ‘n vorm gegee om in te vul en gesê ek kan op dié manier die geld aan my uitbetaal kry. Toe ek egter die vorm invul en na die dame toe neem, was die verskoning wéér dat die rekenaarsisteem nie wys die geld is wel inbetaal nie.”
Van Heerden sê sy het die bewyse van die inbetaling op haar selfoon en is oortuig daarvan dat sy die geld al ‘n geruime tyd gelede moes ontvang. Die pa van haar seun het selfs ‘n bankstaat as bewys van betaling aan die landdroskantoor gegee, maar hulle is steeds nie gehelp nie.
Magle Malelo, kantoorbestuurder by die kontantsaal van die Kimberley-landdroskantoor, sê dis nie net Kimberley se stelsel wat tans af is nie, maar die hele stelsel waarop die inligting hanteer word. Sy sê hulle kry daagliks oproepe van ander persone wat met dieselfde probleme sukkel en probeer hulle bes om die situasie te hanteer.



