Kospakkies: Beaconsfield inwoners moedeloos

Deel hierdie storie / Share this story

Inwoners van Beaconsfield in Kimberley is moedeloos omdat hulle “die enigste gebied is wat nog geen kospakkies ontvang het nie.”

Jane Botha, een van die ongelukkige inwoners, sê sy het meer as twee weke gelede vir die eerste maal aansoek gedoen om van die kospakkies te ontvang.

Die regering het besluit om gesinne wat weens die uitbraak van Covid-19 en inperking swaarkry, te ondersteun deur middel van die verspreiding van kospakkies om hulle deur dié moeilike tydperk te ondersteun.

Volgens Botha moet sy dag na dag sien hoe die vragmotors met kospakkies verby haar huis ry op pad na die gesinne in die lokasie. “Ek verstaan nie waarom ons nie ook kospakkies ontvang nie. Ek het al by SASSA en die departement van sosiale ontwikkeling aansoek gedoen. Ons kry swaar!”

Gamiem Abrahams, woordvoerder vir maatskaplike ontwikkeling in die Noord-Kaap, sê die kospakkies sal soos beplan Donderdag of Vrydag in die Beaconsfield-area afgelewer word.