Twee vas na hulle polisie probeer omkoop

Deel hierdie storie / Share this story

KATHU – Lede van Kathu se misdaadvoorkomingseenheid pas die regulasies van vlak 4 van die Wet op Rampbestuur meedoënloos toe.

Kol. Mashay Gamieldien, polisie-woordvoerder, het gesê sersant Ben Eiman en konstabels Blythe Jantjes en Batriz Canchibato het Maandag om ongeveer 18:10 ‘n padpatrollie in Hans Coetzeestraat gehou toe hulle twee verdagte voertuie opgemerk het wat in die donker geparkeer was.

Toe hulle die voertuie nader, het hulle twee mans gesien wat sigarette van die een voertuig na die ander aangegee het.

Gamieldien sê die twee mans – buitelanders, onderskeidelik 29 en 30 jaar oud – het ook die beamptes met kontant probeer omkoop in ruil vir hul vryheid.

Die polisielede het die twee verdagtes in hegtenis geneem en aangekla in terme van die oortreding van Regulasie 11C(1) van die Wet op Rampbestuur omdat hulle ‘n private voertuig gebruik het om nie-essensiële goedere te vervoer, asook vir omkopery.

Die twee verdagtes sal binnekort in Kathu se landdroshof verskyn.

Volgens Gamielden is sigarette ter waarde van R120 000, sowel as R15 900 in kontant gekonfiskeer.

Die hoof van polisiekantoor op Kathu, lt.-kol. Sandra Boshof, het die beamptes geprys vir hul waarsaakheid en oplettendheid, en het voornemende misdadigers gewaarsku dat die polisie meedoënloos sal voortgaan om hulle op te spoor.