Bejaarde vrou ontvang nuwe woning

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – ‘n Vrou (65) van die Seoding-nedersetting buite Kuruman, Sinah Lenoge, is aan haar lot oorgelaat nadat haar huis deur sterk winde en reën in Desember 2019 verwoes is.

Volgens brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, het die Seoding Brave Watches op dié rampspoedige toneel afgekom en die vrou te hulp gesnel.

Dié organisasie het verskeie sake-ondernemings gevra vir skenkings om die lewenskwaliteit van die Lenoge-familie te verbeter.

Die Brave Watches het sedert 30 April die huis onvermoeid herbou. Die nuwe struktuur is op 8 Mei aan die Lenoge-familie oorhandig, wat dit met waardering en dankbaarheid ontvang het.

Die geleentheid is deur die John Taolo Gaetsewe streeks-bevelvoerder, genl.-maj. Johan Bean, Mothibistad SAPS se kantoorhoof, kol. Didimalang Moetsi, asook verskeie donateurs bygewoon.

Bean het ‘n beroep gedoen op alle organisasies, insluitende nie-regerings- en gemeenskapsorganisasies, om mekaar in tye van nood by te staan. “Eendrag maak mag,” het hy gesê.