R105 000 geskenk om broodnood te verlig en Orania-instellings te versterk

Karoosig se bejaardes in Covid-19-afsondering word deur die gemeenskap vermaak met musiek. Verskaf.

NOORD-KAAP – Die Helpsaamfonds, die Orania Beweging se langtermyn, volhoubare oplossing vir die verbreking van Afrikanerarmoede, het sover R105 000 ingesamel en doen ’n beroep op skenkers vir nog bydrae.

Volgens ’n persverklaring besef die Helpsaamfonds die ekonomiese gevolge van die grendelstaatbeleid gaan wêreldwyd astronomiese ekonomiese gevolge hê, en Afrikaners is in ʼn reeds sukkelende ekonomie aan reuse-ekonomiese uitdagings blootgestel. Die druk op Afrikaners se inkomste, besighede en selfs vermoë om vir hulself kos te voorsien, gaan net toeneem, sê die Orania Beweging.

Noodfonds vir broodgebrek

Die beweging sê: “Om ons Orania-inwoners, wat deur die grendelmaatreëls die geleentheid om te werk ontsê is en so ernstig ekonomies geraak word, veral in ons konstruksiesektor, kontrakwerkerssektor en ander arbeidsgedrewe sektore wat geensins van die huis af kon werk nie te steun, is van groot belang.”

Die Orania Helpmekaarnoodfonds is vroeg tydens die inperking tot stand gebring. Luidens die persverklaring het Helpsaam onmiddellik hierdie inisiatief finansieel ondersteun om seker te maak dat Orania se mees weerlose inwoners toegang tot ordentlike, voedsame kospakkies kry.

Helpsaam het ʼn aanlynplatform geskep om dit vir Orania-ondersteuners moontlik te maak om Afrikaners deur hierdie tyd te help dra.

ʼn Ruim bydrae is deur die Helpsaamfonds ingesamel en aan die noodfonds oorbetaal.

Helpsaamfonds help skole en bejaardetehuis om behoeftiges te help

Die Helpsaamfonds het in die afgelope maande tot vyf instellings in Orania bygedra. 

“Eie-instellings is een van Orania se fundamentele beginsels, en instellings dra mense en gemeenskappe deur die uitdagende tye. Die Helpsaamfonds se uitgangspunt was nog altyd om amptelike instellings te bemagtig om sy mense te help, en so ʼn vermenigvuldigingseffek te kry,” lui die verklaring.

Voorts sê die beweging: “Druk op die ekonomie en werksverlies maak dit vir sommige mense onmoontlik om aan te hou om skoolfonds te betaal. Goeie opleiding en opvoeding is noodsaaklik om Afrikanerkinders te bemagtig om die sirkel van armoede te breek en ons kan nie bekostig dat kinders hierdie geleentheid verloor nie.”

Deur by te dra tot Orania se skole, haal die Helpsaamfonds druk van die instellings af en ʼn sterker instelling kan weer makliker die uitdaging van toenemende ekonomiese druk hanteer. “So help ons elke skool om behoeftiges te ondersteun waar nodig,” sê die beweging.

Karoosig-tehuis vir bejaardes, Orania se eie versorging- en verblyfeenheid vir senior burgers, speel ʼn baie belangrike rol in hierdie tyd. Volgens die beweging is Orania se bejaardes een van die kwesbaarste groepe wat Covid-19 aanbetref. Boonop spring hulle nie die finansiële druk vry nie. “Deur Karoosig te steun, word daar aan sowel die instelling as aan die inwoners hulp gebied.”

Kyk hier hoe inwoners die bejaardes in afsondering gaan vermaak het:

“Afrikaners wat tans geen salaris verdien nie, ons jongmense op skool en bejaardes wat onder druk is, het u hulp meer as ooit nodig. Afrikaners kan mekaar deur moeilike tye dra! Maak vandag u bydrae om die kwesbaarste in ons gemeenskap te help. Asseblief? Maak ’n donasie hier,” sluit die verklaring af.

Leave a Reply

Your email address will not be published.