Dr. Blade Nzimande sê die aktiwiteite op kampusse by universiteite sal nie gedurende fase vier van inperking voortgaan nie. Slegs mediese studente in hul finale jaar, sal in dié fase op kampusse toegelaat word.
Hy sê die akademiese jaar behoort steeds geen lewens in gevaar te stel nie.
Leersisteme wat vir studente van die huis af beskikbaar is, sal geïmplementeer word. Akademiese materiaal sal digitaal en fisies afgelewer word, sê hy.
Toestelle soos skootrekenaars sal binnekort aan alle NSFAS-studente beskikbaar wees.
Die minister sê gedurende die fase sal voorbereiding getref word vir wanneer studente en personeel na universiteite terugkeer.
Verder sê Nzimande die aantal vakansies sal vir Junie en September vanjaar verminder word.
Die moontlike verlenging van die akademiese jaar sal addisionele befondsing benodig en die departement sal in samewerking met NSFAS dié kostes hanteer.



