August 4, 2021

Raad met jou maat – Estelle antwoord

Hier is jou kans om ’n anonieme vraag oor jou verhouding te vra. Stuur jou anonieme vraag na [email protected]

Anonieme lesersvraag

Ek en my ou is vier maande saam en ons bly saam. Die afgelope paar weke verwag hy ek moet net op een kant van my sy lê. Ek snork glo baie hard en dan kan hy nie slaap nie, hy sê dis oor ek oorgewig is. Hy vererg hom as ek op my rug aan die slaap raak en dan staan hy op en gaan slaap in ’n ander kamer. Die volgende oggend maak hy asof niks verkeerd is nie en sê ek is kleingevoelig, as ek vir hom sê dit voel nie reg nie. Dink julle hy’s reg, is ek kleingevoelig hieroor?

Antwoord:

Anoniem, dit kan vir ’n maat baie frustrerend wees wanneer jou ander helfte snork. Slaapontneming kan baie probleme veroorsaak, mens is net nie jouself as jy nie genoeg slaap inkry nie. Dit is egter nie reg van jou maat om jou te laat sleg voel oor jou gewig nie. Die beste raad is om ’n dokter te gaan sien omdat skielike snorkery, veral op ’n jong ouderdom, dalk gesondheidsrisiko’s kan inhou. Gewig, sinusprobleme, rook, drank en medikasie kan ’n groot rol speel en dit is dalk iets wat maklik opgeklaar kan word. Dit kan ook op groter probleme dui. Die beste is om eers seker te maak daar is geen gesondheidsprobleme nie en dit dan van daar verder te neem. Vra hom om eerste saans te gaan slaap terwyl julle ’n dokter raadpleeg. Op so ’n manier is hy dan reeds aan die slaap, sou jy snork. As jy hom dan steeds wakker snork, moet hom nie kwalik neem as hy vir eers in ’n ander kamer gaan slaap nie. – Estelle

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *