Dr. Nkoazana Dlamini-Zuma, minister van die samewerkende regering en tradisionele sake, het Suid-Afrikaners regstreeks vanaf Pretoria toegespreek oor die stelselmatige uitfasering van die inperking.
Dié minister sê die land was laas tydens die Groot Depressie onder soveel druk soos nou. Die verskil is egter dat die ekonomie ten tye van die Groot Depressie stadiger agteruitgegaan het as wat dit nou doen.
Provinsiale grense sal tydens die implementering van die vierde fase gesluit bly, sê die minister. Interprovinsiale reise sal steeds verbied word, met begrafnisse as uitsondering. Streng maatreëls sal steeds gevolg word wanneer universiteite en skole heropen.
Jy sal steeds nie by vriende of familie mag gaan kuier nie.
Die dra van lapmaskers sal vir Suid-Afrikaners verpligtend wees. Alhoewel maskers moeilik bekombaar is, bly dit ‘n noodsaaklikheid. ‘n Serp of T-hemp kan ook in pleks van ‘n masker gebruik word. “Enigiets wat jou mond en neus bedek, beskerm jou en diegene om jou.”
Openbare vervoerdienste soos taxi’s sal beskikbaar wees om diegene wat werk toe moet gaan, te vervoer. Streng maatreëls en spesifieke tye sal nog bekendgemaak word.
Gemeenskapswelstand bly steeds ‘n prioriteit, sê die minister. Dié sektor, wat winter- en babaklere voorsien, sal oopgemaak word.
Suid-Afrikaners word so ver moontlik aangemoedig km steeds in die volgende twee fases van inperking van die huis af te werk.
Maatskappye moet seker maak werkplekke voldoen aan die gesondheidsmaatreëls soos skandering en toetsing, beskermende klere, lukrake toetse en sosiale distansiëring.
Begrafnisse se gebruike en tradisies, soos baie persone wat een graaf vir die toegooi van ‘n graf of een lepel vir die skep van slaai gebruik, sal aangepas moet word.



